Deur Dr Louis du Pisani
Die Oos-Kaap is aan beide bos-indringing en bosverdigting onderhewig. Bos-indringing is die proses waar houtagtige plante in gebiede inbeweeg waar dit in die verlede nie voorgekom het nie. Bosverdigting, aan die ander kant, is die proses waar houtagtige plante in digtheid toeneem en in die proses ander plantegroei, meestal grasse, verplaas. Daar is ʼn hele reeks van houtagtige plante wat in die Oos-Kaap indring en verdig. Soetdoring (Vachellia karroo) is die algemeenste indringer en verdigter.
Daar word reeds vir dekades waargeneem dat Soetdoring besig is om sy verspreidings gebied in die Oos-Kaap te vergroot. Dit het veral ʼn verspreidingsroete in ʼn westelike rigting gevolg. Die verspreiding van koedoes, ook in ʼn westelike rigting, word veral aan hierdie fenomeen toegeskryf. Die vermoede bestaan dat dit veral aardverwarming is wat hiertoe bydrae. Jong plante en saailinge is kwesbaar vir besonder lae nag temperature. Hierdie temperature staan bekend as eliminasie temperature en dood veral die jong Soetdoring plante, op voorwaarde dat eliminasie temperature vir ʼn paar nagte agtereenvolgens voorkom. Soetdoring saailinge slaag meestal daarin om ʼn enkele nag met ʼn eliminasie temperatuur te oorleef. Met aardverwarming kom daar nog steeds van tyd tot tyd besonder lae nagtemperature voor, maar die voorkoms van ʼn reeks van agtereenvolgende nagte met eliminasie temperature het skaars geraak. Die gevolg is dat jong plante oorleef en kans kry om groter te word. Die groter plante is aansienlik minder gevoelig vir eliminasie temperature.
Daar word ook vir dekades reeds waargeneem dat Soetdoring besig is om ook te verdig. Die meegaande reeks van drie foto’s, wat die verdigting van Soetdoring in die King William’s Town omgewing uitbeeld, is in 2014 deur Prof. Tim O’Connor en sy twee medewerkers in die African Journal of Range & Forage Science gepubliseer. Die foto gemerk (a) is in 1958 deur ʼn ene D M Comins afgeneem. Foto (b) is deur Prof. Tim Hoffman, van die dieselfde stuk veld, in 1992 geneem, en (c) is deur James R Puttick in 2011 gefotografeer. Beramings deur die Departement van Omgewingsake in 2019, toon aan dat daar reeds sowat 300 000ha ernstig deur houtagtige plante in die Oos-Kaap besmet is.
Bosverdigting word deur ʼn reeks van faktore gedryf, wat insluit verkeerde beweidings praktyke, die afwesigheid van sogenaamde mega of groot struikvreters (dit is olifante en swart renosters), die bekamping of verkeerde gebruik van veldbrande, die verskuiwing in reënval patrone, aard verwarming en klimaatsverandering. Die drastiese toename in die aarde se koolsuurgras konsentrasie (CO2) oor die afgelope 100 jaar word as die belangrikste dryfkrag agter huidige bosverdigting beskou. Die volgende is ʼn baie vereenvoudigde, maar logiese verduideliking van waarom CO2 die skuld kry vir die situasie:
- Plante neem koolsuurgas tydens fotosintese op en gebruik die koolstof daarin om te groei en voer te produseer. Met dié dat die CO2 in die atmosfeer die afgelope 100 jaar so drasties toegeneem het, het die plante nou meer koolstof en produseer beter. Die nuutste veldnavorsing dui op toenames van gemiddeld 17% in bogrondse plantproduksie en sowat 30% in wortelgroei as gevolg van die hoër atmosferiese CO2 konsentrasie op aarde. Daar word van koolsuurgas bemesting gepraat.
- Nie alle plante word ewe goed deur die toename in CO2 bevoordeel nie. Dit is veral die houtagtige plante wat C3 fotosintese pad volg, wat die meeste bevoordeel word.
- Die beskikbaarheid van stikstof bepaal ook hoe goed of swak plante deur die verhoogde CO2 beïnvloed word. Tekorte aan stikstof beperk die effek, terwyl addisionele N die effek versterk. Peulplante is gevolglik besonder gunstig geposisioneer om van die verhoogde atmosferiese CO2-konsentrasies gebruik te maak omdat hulle stikstof bind vir gebruik as voedselbron. Soetdoring is ʼn peulplant wat N baie effektief bind wat dus groei en produksie verder bevoordeel.
As gevolg van die koolsuurgas bemesting is Soetdoring nou ʼn super suksesvolle plant, met uitgebreide wortelstelsels wat gepak is met koolhidraat reserwes. Die gevolg is dat hulle minder gevoelig is vir vuur, beweiding en lae temperature en hulle verdig teen ʼn spoed.
Daar is baanbreker navorsing op bosindringing in die Oos-Kaap gedoen, hoofsaaklik deur die weidingkundiges van Döhne Navorsingstasie en die Universiteit van Fort Hare. Hierdie navorsing het tot die volgende gevolgtrekkings gekom:
- Soetdoring begin grasproduksie onderdruk by ʼn vlak bokant 300 boom-ekwivalente (BE) per hektaar. ʼn Boom met ʼn hoogte van 1.5m word as een boom-ekwivalent is gedefinieer. Dus, ʼn boom van 3m hoog is gelyk aan 2 BE’s en ʼn boom van ʼn halwe meter hoog, is 0.5 BE. Die weikapasiteit vir bees- en skaapboerdery word dus negatief geraak word by hoër bos digthede.
- Wanneer bokke in die produksiestelsel ingeskakel word, neem die gesamentlike gras en struik weikapasiteit af by bos digthede bokant 1000 BE/ha.
Die vlakke van verdigting is in groot gebiede reeds aansienlik hoër as beide die bogenoemde norms en is beheer noodsaaklik om maksimale winsvlakke te kan realiseer.
Bo en behalwe die effek wat bosverdigting op weidingsproduksie het, affekteer dit ook die biodiversiteit (verskeidenheid) van veral die gras laag. Dit dra verder ook by tot die ʼn verlaging in die grond se bedekking, wat op sy beurt weer tot versnelde gronderosie aanleiding gee. Beheer van hierdie plant het dus noodsaaklik geword.
Daar is verskeie beheer metodes beskikbaar, wat wissel vanaf vuur tot meganiese beheer met rollers en grondverskuiwingtoerusting tot chemiese beheer met onkruiddoders. Sodra ʼn mens oor bosbeheer begin praat, ontketen dit dikwels ʼn drieledige respons. Die een is oor die vermoë van houtagtige plante om aansienlike hoeveelhede koolstof uit die atmosfeer te verwyder en in die bo- en ondergrondse dele vas te lê. Die ander het te doen met koste van beheer en die moontlike negatiewe effekte van chemiese beheer.
Die vraag word met reg gevra of die beheer van houtagtige plante dus nie juis teenproduktief in terme van hul vaslegging van groot hoeveelhede gasse soos koolsuurgras wat aanleiding gee tot aardververwarming nie? ʼn Verslag wat die Departement van Omgewingsake in 2019 gepubliseer het, het hierdie vraagstuk ondersoek en tot die volgende gevolgtrekking gekom:
“.….. addressing bush encroachment would outweigh the mitigation benefit of allowing it to proceed. While the exact amount of carbon sequestered through bush encroachment in South Africa is unknown, even if it were substantial, the risk of losing biodiversity and further degrading ecosystem services from allowing bush encroachment to continue unheeded is considered unacceptable. Moreover, the potential risk to biodiversity of allowing bush encroachment would contradict the commitments made under the UNCBD. It is clear that bush encroachment should be considered a form of land degradation under the UN commitments, and that other, less damaging, emission reduction opportunities should be employed to meet those targets.”
Soos reeds genoem kom koste van beheer en die veiligheid van chemiese middels ook ter sprake. Dertig tot veertig jaar gelede, toe grond nog relatief goedkoop was, was dit baie moeilik om bosbeheer ekonomies te regverdig. In daardie tyd was die koste van beheer hoër as die waarde van die grond en was dit dus goedkoper om nog grond te koop as om die bos te beheer. Tans is die koste van beheer aansienlik laer as die waardasie van grond en maak dit ekonomiese sin. Dit natuurlik bo en behalwe die beter drakrag en veeproduksie per ha van die veld. Chemiese beheer bly ʼn kontroversiële onderwerp, maar die nuwe produkte is aansienlik veiliger en omgewingsvriendelik as in die verlede. Dikwels lê die probleem nie by die chemiese middel nie, maar by die gebruik en aanwending daarvan. Sommige mense is ook van mening dat chemiese beheer tot die totale uitwissing van die houtagtige plante aanleiding gee. Dit is veral die mening van persone wat bekommerd is dat goeie bome en struike benadeel sal word. Met die regte toediening metodes, die aanwending van die korrekte aktiewe bestanddele en konsentrasies van die hedendaagse middels, is dit heeltemal moontlik om bosse baie selektief te beheer. Maak net seker dat die advies van ʼn spesialis op die gebied geraadpleeg word.
Ter opsomming, die indringing en verdigting van Soetdoring is besig om die produksiepotensiaal van groot dele van die Oos-Kaap se natuurlike weidings te benadeel, met ʼn gevolglike verlaging in die winsgewendheid en volhoubaarheid van veeproduksie. Die tempo van indringing en verdigting is besig om so te versnel dat die situasie mettertyd so kan versleg dat dit nie meer moontlik sal wees om die skade om te keer nie. Daar was nog nooit ʼn beter tyd om die situasie te beredder as juis nou nie. (Dr Louis du Pisani is ʼn onafhanklike Landbou Konsultant en het hierdie artikel in opdrag van Corteva Agriscience geskryf – 082 773 9778)