Deur Dr Louis du Pisani
In ‘n vorige artikel oor die indringing en verdigting van Soetdoring (Vachellia karroo)) in die Oos-Kaap, het die skrywer tot die gevolgtrekking gekom dat “…… die indringing en verdigting van Soetdoring besig is om die produksiepotensiaal van groot dele van die Oos-Kaap se natuurlike weidings te benadeel, met ʼn gevolglike verlaging in die winsgewendheid en volhoubaarheid van veeproduksie. Die tempo van indringing en verdigting is besig om so te versnel dat die situasie mettertyd so kan versleg dat dit nie meer moontlik sal wees om die skade om te keer nie”.
Soetdoring kompeteer met die ander plante in die veld vir lig en water en begin grasproduksie onderdruk by digtheidsvlakke van 300 boom-ekwivalente (BE) per hektaar en hoër. Een BE is gelyk aan ‘n boom met ‘n hoogte van 1.5m. ‘n Boom van 3m hoog is dus gelyk aan 2 BE en ‘n boom van ‘n halwe meter in hoogte is 0.5 BE. Die beskikbaarheid van gras as weiding vir beeste en skape word dus negatief geraak by bosdigthede wat 300 BE/ha oorskry. Wanneer blaarvreters soos bokke aangehou word, begin die gekombineerde gras- en struik weidingskapasiteit benadeel by bosdigthede bokant 1320 BE/ha (Danckwerts, 1981 & Stuart-Hill, 1987). De Ridder (2015) het bevind dat die verhouding tussen Soetdoring se digtheid en reënval as maatstaf gebruik kan word om te bepaal of beheer nodig is. Sy navorsing het gewys dat wanneer daar meer as 8.23 BE/hektaar/mm jaarlikse reënval voorkom, oorweging gegee kan word aan die vermindering van die Soetdoring om optimale grasproduksie vlakke te handhaaf. In wese beteken dit dat beheer van Soetdoring die voordeligste is in daardie gebiede van die Oos-Kaap met ‘n gemiddelde jaarlikse reënval van minder as 600mm, terwyl dit minder voordelig is in die sub-humiede gebiede met ‘n gemiddelde jaarlikse reënval van meer as 600mm. Tog kan Soetdoring in hierdie sub-humiede gebiede só dig en ondeurdringbaar word, dat beheer wel noodsaaklik word bloot om toegang te verleen vir die vee.
De Ridder (2015) se studies het ook aangetoon dat Soetdoring die ruproteïeninhoud van die gras in die veld verhoog en dus die weidingskwaliteit daarvan verbeter. Om hierdie rede sal die totale verwydering van Soetdoring ‘n negatiewe impak op diereproduksie hê. Stuart-Hill het so alreeds in 1987 beraam dat die optimale opbrengs van Totale Verteerbare Voedingstowwe per ha (TVV/ha) by ‘n Soetdoringdigtheid van ongeveer 1000 BE/ha in die semi-droë streke van die provinsie bereik word, waarna die TVV/ha afneem as gevolg van die afname in die grasproduksie.
Daar is verskeie beheer metodes wat gebruik kan word vir Soetdoring, wat wissel van vuur tot meganiese beheer met rollers en grondverskuiwingstoerusting tot chemiese beheer met onkruiddoders. Dertig tot veertig jaar gelede, toe grond nog relatief goedkoop was, was dit byna onmoontlik om bosbeheer ekonomies te regverdig. Op daardie tydstip was die koste van beheer hoër as die waarde van die grond en daarom was dit goedkoper om meer grond te koop. Vandag is die koste van beheer aansienlik laer as die waardasie van grond en maak bosbeheer dus ekonomiese sin. Dit is natuurlik benewens die verbeterde dravermoë en veeproduksie per ha van die veld. Van al die verskillende beheer maatreëls, is onkruiddoders die koste-effektiefste.
Die beheer van Soetdoring met boomdoders moet op ‘n wetenskaplike wyse aangepak word. Beheer is beslis nie net ‘n situasie waar mens links-en-regs bosse doodmaak met gif nie. Dit vereis die hulp van ‘n kundige op die gebied wat kan help om ‘n reeks van optimale beheer strategieë en -tegnieke vir ‘n spesifieke probleem en met spesifieke doelwitte vir ‘n boer op te stel en met die implementering daarvan te help.
Die eerste stap in die beheerplan is om te besluit of uitdunning van die Soetdoring wel voordelig sal wees en tot watter mate dit uitgedun moet word en waar op die plaas is dit ‘n prioriteit is om die boomdigtheid te verminder. Faktore wat in ag geneem moet word, is (1) hoe dig is die stand in BE/ha, (2) met watter veesoorte word op die eiendom geboer (dit is beeste en/of skape en/of bokke of wild, aangesien dit die verhouding tussen gras- en struikvreters bepaal, wat op sy beurt weer die mate van uitdunning en die grote van die plante wat beheer moet word sal bepaal), (3) hoe ekologies sensitief die gebied is waar beheer vereis word en (4) wat die ouderdom en grootte verspreiding van die Soetdoring stand is waar beheer oorweeg word. Byvoorbeeld, wanneer daar uitsluitlik met grasvreters soos beeste en skape geboer word en maksimum grasproduksie verlang word, moet uitdunning gedoen word totdat die stand van die Soetdoring ongeveer 300 TE/ha is. Sommige van die groter bome moet behou te word (tot by 300 BE/ha) om skaduwee te verskaf en om daaropvolgende generasies van Soetdoring saailinge te onderdruk. Die res van die bome en struike moet uitgedun word. Of, wanneer bokke aangehou word, sal ‘n mens eerder die korter, struikagtige plante wat binne die weihoogte van die diere is, behou en tot ongeveer 1320 BE/ha uitdun.
Die volgende stap is om te besluit op ‘n geskikte onkruiddoder (= aktiewe bestanddeel) vir die tipe en mate van uitdunning wat verlang word, die konsentrasie en toedienings peile daarvan, die vorm waarin dit toegedien gaan word (korrels, benatbare poeier of vloeistof) en die toedienings metode. Daar is twee breë groepe onkruiddoders wat gebruik kan word vir die beheer van bos onder weidingstoestande. Die eerste groep word op die grondoppervlak toegedien, wat dan deur die wortels geabsorbeer word nadat dit in reënwater opgelos is. Die tweede groep onkruiddoders word direk op die plant toegedien en deur die blare en/of ander bogrondse dele geabsorbeer (byvoorbeeld deur afgesnyde of gekeepte stompe en stamme, of deur die bas). Grond toegediende formulerings kom voor in die vorm van korrels (soos byvoorbeeld Molopo 200 GG), benatbare poeiers of as ‘n vloeistof (soos byvoorbeeld Molopo 200 GG SC, Access 240 SL en Tordon 22 K). Korrels kan met die hand, vastevlerk vliegtuie, helikopters en voertuiggemonteerde verspreiders toegedien word. Benatbare poeiers en vloeistowwe word met water gemeng en op die grondoppervlak langs die stam van die plant of direk op die plante toegedien (met of sonder die byvoeging van benatters). Toedienings kan óf oor groot gebiede uitgestrooi word of selektief op spesifieke kolonies plante of nog meer selektief op individuele plante deur middel van blaar bespuitings, gekapte stamme en basale bas toedienings. Die breedwerpige uitstrooi metodes is die minste selektief, terwyl stam- en bas toedienings baie selektief toegedien kan word, wat spesifieke bosspesies en spesifieke individue of groepe individue teiken. Die hoeveelhede van wat op die grond toegedien moet word om die nodige beheer te verkry, word hoofsaaklik deur die grond se klei-inhoud, organiese materiaal-inhoud en grondsuurheid (pH) bepaal.
Die derde stap in die beheerplan is om te besluit op die beste tyd van toediening. Byvoorbeeld, wanneer blaar toediening gebruik word, moet die plante tydens toediening in ‘n positiewe waterbalans wees en aktief fotosinteer. Andersins sal die plante se huidmondjies toe wees en nie die onkruiddoder absorbeer nie. Of, wanneer grond toedienings gemaak word wat eers in die reënwater moet oplos en dan in die grond infiltreer, moet die toediening verkieslik voor die aanvang van die reënseisoen gedoen word.
Laastens, wie ook al die onkruiddoder toedien, moet goed opgelei wees en onder die toesig van ‘n kundige persoon werk. Die nakoming van die spesifieke voorskrifte en instruksies (insluitend die gesondheid- en veiligheids instruksies) soos aangedui op die produk se pamflet, is noodsaaklik.
Die mate en tempo van bosverdigting word deur ‘n verskeidenheid van faktore bepaal, insluitende verkeerde beweidingspraktyke. Dit is dus noodsaaklik om die korrekte beweidingstrategieë en -riglyne na voltooiing van die bos beheerprogram te volg. Indien nie, sal die bos voortydig weer begin verdig.
Soms is die beskikbaarheid van saad van die voorkeur gras spesies laag, veral waar baie digte stande van Soetdoring beheer is. Dan is dit verkieslik om die saadbank met die insaai van grassade te verbeter. Wanneer die bos met onkruiddoders beheer word wat ook grasse kan doodmaak, is die tyd van die insaai van die grassade baie belangrik. As dit te vroeg ingesaai word, kan die saailinge wat opkom ook deur die gif gedood word.
Klimaatsverandering en aardverwarming dra by tot versnelde bos-indringing en -verdigting en gevolglik is herindringing en -verdigting na beheer onvermydelik. ‘n Moniteringsprogram is dus noodsaaklik en saailinge moet beheer word terwyl hulle nog jonk is, aangesien dit teen lae onkruiddoder konsentrasies beheer kan word.
(Dr Louis du Pisani is ʼn onafhanklike Landbou Konsultant en het hierdie artikel in opdrag van Corteva Agriscience geskryf – 082 773 9778)
Verwysings:
Danckwerts, J. E., 1981. A technique to assess the grazing capacity of sweetveld with particular reference to the False Thornveld areas of the Ciskei. Natal University.
De Ridder, C. H., 2015. The effect of Acacia karroo tree density on grass species composition, forage yield and quality in different rainfall regimes in the Eastern Cape, South Africa. Nelson Mandela University.
Stuart-Hill, G. C., 1987. Refinement of a model describing production, animal production and profitability as a function of bush density in the False Thornveld of the Eastern Cape. Journal of the Grassland Society of Southern Africa.